1
Daarna het Hy hardop voor my ore geroep en gesê : Kom nader , geregsdienaars van die stad , en elkeen met sy verwoestende wapen in sy hand .
2
En kyk, ses manne kom met die pad van die Boonste Poort wat na die noorde toe lê, en elkeen met sy wapen in sy hand om mee te verbrysel; en onder hulle een man wat met linne bekleed was, met 'n skrywer se inkpot aan sy heupe ; en hulle het gekom en vlak by die koperaltaar gaan staan .
3
En die heerlikheid van die God van Israel het opgestyg van die gérub waar dit op was, na die drumpel van die huis toe; en Hy het na die man geroep wat met linne bekleed was, wat die skrywer se inkpot aan sy heupe gehad het.
4
En die HERE sê vir hom: Trek dwarsdeur die stad , dwarsdeur Jerusalem , en maak 'n teken op die voorhoofde van die manne wat sug en steun oor al die gruwels wat daarin gedoen word.
5
Maar aan die ander sê Hy voor my ore: Trek agter hom aan deur die stad , en slaan ; laat julle oog nie verskoon nie, en moet nie spaar nie;
6
slaan dood grysaards, jongmanne en jongedogters en kinders en vroue tot vernietiging toe; maar raak aan niemand op wie die teken is nie, en begin by my heiligdom. En hulle het begin by die manne, die oudstes, wat voor die huis was.
7
En Hy sê vir hulle: Verontreinig die huis en maak die voorhowe vol met mense wat verslaan word. Trek uit! En hulle het uitgetrek en geslaan in die stad .
8
En toe hulle besig was om neer te slaan en ek oorgebly het, het ek op my aangesig geval en uitgeroep en gesê : Ag, Here HERE , gaan U die hele oorblyfsel van Israel vernietig deurdat U u grimmigheid oor Jerusalem uitgiet?
9
Toe sê Hy vir my: Die ongeregtigheid van die huis van Israel en van Juda is buitengewoon groot , en die land is vol bloedskuld, en die stad is vol regsverbreking; want hulle sê : Die HERE het die land verlaat, en die HERE sien nie.
10
Daarom ook, wat My aangaan, my oog sal nie verskoon nie, en Ek sal nie spaar nie; Ek sal hulle wandel op hulle hoof laat neerkom.
11
En kyk, die man wat met linne bekleed was, aan wie se heupe die inkpot was, het berig gebring en gesê : Ek het gedoen soos U my beveel het.